Vrede | Datum: 21 Julie 2020

Wat is die oorsaak van onvrede?

Goeie môre, familie in Christus

In Suid-Afrika is daar nie net vrees oor die Covid 19 virus nie, maar ook oor die boere wat elke dag op plase vermoor word. Verder is daar nog bo en behalwe dit ook nog onrus en korrupsie, aan die orde van die dag, wat die vrede nog verder versteur. Mense se harte beswyk, en pleeg selfmoord oor die vrees wat gesaai word. Tereg sê 1 Thess. 5:3 dat:- Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid--dan oorval 'n skielike verderf hulle, soos die barensnood 'n swanger vrou. Op aarde word daar vrees gesaai, en mense

word angstig, en in dit alles, blyk daar geen vrede te wees nie.

Die definisie van vrede is :- Vrede is 'n toestand van stilte of harmonie, of 'n toestand sonder gevegte of oorloë. Maar volgens my, het Martin Luther ‘n beter definisie van vrede gegee. Hy het vrede beskryf as:- dat dit nie net oor die afwesigheid van konflik nie gaan nie, maar dat reg sal geskied.

 

Wat is die oorsaak van onvrede? Die Woord van God beskryf ook duidelik wat onvrede veroorsaak. Volgens Rom 3 is die hoofoorsaak van onvrede, is  die mens wat sy vrees vir God verloor het. Die woord beskryf ook die mense wat onvrede bewerkstellig. Dis die mense wat God nie soek nie, hulle pleeg bedrog, hulle vervloek mense en is vol van bitterheid, hulle is haastig om bloed te vergiet, en saai verwoesting en ellende sover hulle gaan. Klink dit nie bekend nie?

 

Hoekom doen hulle dit? Volgens Rom 3:17 staan daar dat hulle die weg van vrede nie ken nie. Jesus is volgens Joh 14:6 die weg en die waarheid en die lewe, en omdat hulle Jesus nie ken nie, ken hulle ook nie die bron van vrede nie. In Joh 14:27 sê Jesus dan ook vir ons:-  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie. Jesus is ons vrede, Hy is immers die Vredevors, sonder die kruisiging sou daar nooit vrede kon gewees het nie. Want volgens Efes. 2:14 is Jesus ons vrede, omdat Hy die middelmuur van skeiding, wat tussen ons en God was, afgebreek het. Hy het aan die kruis gesterf, sodat daar nie net vrede tussen ons en God tot stand kan kom nie, maar ook sodat ons die ewige lewe kan beerwe. In Rom 5:1  staan daar dan ook dat:- ons uit die geloof geregverdig is, ons vrede by God, deur onse Here Jesus Christus het.

 

In Jes. 52:7 Staan daar: Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! Rykdom, eer en aansien kan ons ook nie volkome vrede gee nie, maar net Sy geregtigheid in Hom, kan ons die ware vrede en blydskap gee. Volgens Fil. 4:7 kan net God, deur Jesus Christus ons die ware vrede gee, wat alle verstand te bowe gaan

 

Jesus gee ons ook die opdrag in Heb 12:14 om die vrede na te jaag met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie. Daarom moet ons in vrede met almal lewe. Om in vrede met almal te lewe beteken dit, dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Daar is dalk diegene wat nie belangstel om vrede met jou te maak nie. Maar van jou kant af, moet ons in vergifnis met mekaar loop en volgens Mat 5:44 dat ons ons vyande sal liefhê; dat ons die sal seën, wat ons vervloek, goed sal doen, aan die wat ons haat, en dat ons ook vir die sal bid, wat ons beledig en ons vervolg. Dit is ‘n hele mondvol, en is nie altyd so maklik, soos dit lyk nie. Dit is eintlik onmoontlik sonder die krag van die Heilige Gees. Dit kos om in onsself te sterf, sodat Sy krag in ons swakheid volbring sal word. Dit beteken dat ons gevul sal wees met die Heilige Gees, en bereid is om Hom na te volg, ongeag die omstandighede of wat die situasie ookal mag wees. Want in Joh 16:33 sê Jesus vir ons, dat ons in Hom vrede sal hê, alhoewel ons in die wêreld verdrukking sal hê; maar dat ons goeie moed moet hou, omdat Hy die wêreld reeds oorwin het.

 

Het jy volkome vrede, en leef jy in vrede met almal? Het jy almal vergewe wat jou onreg aangedoen het, en jou vals beskuldig het? Bitterheid is die wortel van onvergifnis en die woord van God waarsku ons teen bitterheid in Heb 12:15 wat sê:- pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet, en onrus verwek, en baie hierdeur besoedel word nie. Maar hy wil ons volgens Jes. 26:3 ons vrede en voorspoed gee, as ons Hom sal vertrou, omdat hy die enigste een is wat ware lewe en ware vrede kan gee.

 

As jy vanmôre voel dat jy nie vrede in jou hart met God en met jou medemens het nie, bid saam met my

Vader, baie dankie vir U onbeskryflike liefde en genade wat U teenoor my betoon het. Vader, vanmôre wil ek U vra, dat U my sal help, deur die krag van die Heilige Gees, om die te vergewe, wat onreg teen my gepleeg het en my vals beskuldig het. Vader, vergewe ook vir my, waar ek teen U gesondig het en ongehoorsaam teenoor U woord was. Skep vir my weer opnuut in my binneste ‘n vaste gees en ‘n rein hart. Heilige Gees kom en vul my weer opnuut met U liefde en krag, in Jesus naam. Dankie Vader. Amen.

 

Ek bid julle ‘n lieflike en ‘n geseënde  dag toe.